Hoe word die Amerikaanse President verkies?

Indien u selfs net ʼn terloopse belangstelling in die Amerikaanse Presidentsverkiesing, sou u sekerlik al gehoor het dat daar gesê word dat Demokratiese kandidate dikwels die populêre stem gewen, maar steeds die verkiesing verloor het; om die waarheid te sê, in 2016 het Clinton meer as 2,8 miljoen stemme in die hele Amerika (VSA) meer as Trump gekry. Hoe, sou u kon vra, indien u nie bekend is met die Amerikaanse verkiesingstelsel nie, kan ʼn kandidaat wat die minderheid stemme getrek het, dan een wen wat veel meer stemme getrek het?

Die antwoord is te vinde in die Amerikaanse kiesstelsel. Hulle President word verkies nie deur die populêre stem nie, maar deur ʼn sogenaamde kieskollege. Die kiesers wys eintlik verteenwoordigers na die kieskollege aan wat ondersteuning gesweer het aan ʼn bepaalde kandidaat, met die kieskollege wat dan die President verkies. Dit moet egter altyd in gedagte gehou word dat Amerika, anders as Suid-Afrika, ʼn sogenaamde federale staat is.

Die konsep van ʼn federale staatsvorm beteken dat deelstate (of dan, onder ons stelsel, provinsies) tot ʼn groot mate outonoom (selfregerend) is. Saatsmagte word verdeel tussen die federale (nasionale) regering, die deelstate en selfs plaaslike owerhede (munisipaliteite).

Ander as hier, waar die nasionale regering feitlik altyd die finale mag het, het hulle deelstate (en selfs, met betrekking tot sommige funksies munisipaliteite) magte waar die nasionale (of, soos hulle daarna verwys, die federale) regering nie mag inmeng nie. Die Amerikaners voel baie sterk oor hulle federale regeringsvorm; dit is voorgeskryf in hulle Grondwet, en word geag as baie belangrik om te voorkom dat mag in daardie enorme land misbruik word. Dit is een van die vernaamste waarborge om te verseker dat hulle demokrasie voortbestaan. Om egter terug te keer na die Presidensiële kieskollege: verteenwoordigers word nie streng aangewys volgens die aantal stemme wat ʼn kandidaat getrek het nie, maar binne die konteks van die land se federale regeringsvorm. Amerika is verdeel in 50 deelstate (en ʼn aantal kleinere afhanklike gebiede). Elkeen van hierdie 50 deelstate kan ʼn aantal verteenwoordigers na die kieskollege aanwys in verhouding tot daardie staat se bevolking van die land se totale bevolking.

Om die verduideliking te vereenvoudig, kom ons gebruik ʼn voorbeeld van ʼn land met 5 deelstate. Die land se totale bevolking is 1,000,000.

-- Staat 1 het ʼn bevolking van 100,000; met ander woorde 10% van die totale bevolking.

-- Staat 2 het ʼn bevolking van 50,000; met ander woorde 5% van die totale bevolking.

-- Staat 3 het ʼn bevolking van 300,000; met ander woorde 30% van die totale bevolking.

-- Staat 4 het ʼn bevolking van 400,000; met ander woorde 40% van die totale bevolking.

-- Staat 5 het ʼn bevolking van 150,000; met ander woorde 15% van die totale bevolking.

 Die kieskollege wat die President moet aanwys, bestaan uit 100 verteenwoordigers. Die onderskeie deelstate kan met ander woorde die volgende aantal verteenwoordigers aanwys na die kieskollege:

  • Staat 1: 10.

  • Staat 2: 5.

  • Staat 3: 30.

  • Staat 4: 40.

  • Staat 5: 15.

Wat nou belangrik is van die Amerikaanse stelsel, is nie noodwendig om te vra hoeveel stemme elke kandidaat gekry het nie, maar wel wie (watter kandidaat) die meerderheid stemme in ʼn bepaalde staat gekry het. (In Engels [of dan Amerikaans] verwys hulle daarna as “winner takes all”; met ander woorde, die kandidaat wat met 1 stem wen in ʼn bepaalde deelstaat, kan al die lede na die kieskollege uit daardie deelstaat aanwys). Kom ons veronderstel daar is 500,000 kiesers wat gestem het in die land. Hulle het as volg gestem:

  • · Staat 1: Gestem: 50,000 (Vir Kandidaat A: 25,100; Vir kandidaat B: 24,900)

  • · Staat 2: Gestem: 25,000 (Vir Kandidaat A: 5,000; Vir kandidaat B: 20,000)

  • · Staat 3: Gestem: 150,000 (Vir Kandidaat A: 75,050; Vir kandidaat B: 74,950)

  • · Staat 4: Gestem: 200,000 (Vir Kandidaat A: 50,000; Vir kandidaat B: 150,000)

  • · Staat 5: Gestem: 75,000 (Vir Kandidaat A: 38,000; Vir kandidaat B: 37,000)

Veronderstel dat die populêre stem bepaal het wie President sal word. Kandidaat A het 193,150 stemme gekry, en Kandidaat B 306,850; met ander woorde, Kandidaat B sou die President geword het. Die Amerikaanse stelsel werk egter nie so nie. Volgens hulle stelsel, kan elke kandidaat al die verteenwoordigers uit ʼn bepaalde deelstaat waar hulle die meerderheid stemme getrek het, aanwys. Met ander woorde:

  • · Uit Staat 1 kan Kandidaat A 10 verteenwoordigers aanwys wat vir hom of haar gaan stem as President.

  • · Uit Staat 2 kan Kandidaat B 5 verteenwoordigers aanwys wat vir hom of haar gaan stem as President.

  • · Uit Staat 3 kan Kandidaat A 30 verteenwoordigers aanwys wat vir hom of haar gaan stem as President.

  • · Uit Staat 4 kan Kandidaat B 40 verteenwoordigers aanwys wat vir hom of haar gaan stem as President.

  • · Uit Staat 5 kan Kandidaat A 15 verteenwoordigers aanwys wat vir hom of haar gaan stem as President.

Met ander woorde, in die kieskollege sal 55 verteenwoordigers vir Kandidaat A stem, en 45 vir Kandidaat B. Kandidaat A sal derhalwe President word, al het hy of sy 113,700 stemme minder gekry as Kandidaat B. Dit is presies wat in Amerika gebeur het. Enkele groot Amerikaanse state, by name New York en Kalifornië, het oorweldigend vir Clinton gestem (in laasgenoemde met ʼn meerderheid van meer as 4 miljoen stemme), maar dit was nie genoeg om op te maak vir die feit dat Trump veel kleiner meerderhede in veel meer deelstate gekry het nie. Tans bestaan die Amerikaanse Kongres (hulle Parlement) uit 538 verteenwoordigers (100 in die Senaat, en 438 in die Huis van Verteenwoordigers). Die kieskollege wat die President moet verkies bestaan uit dieselfde aantal persone (538).

Dit sal egter ʼn fout wees om te dink dat hierdie tipe uitslag slegs in Amerika plaasvind. In 2015 het die Konserwatiewe Party in Brittanje 36,8% van die totale aantal stemme in die algemene verkiesing gekry, maar 50,6% van die kiesafdelings in die land se Parlement; wat beteken dat hulle die land sou regeer, want die meerderheid in die Parlement bepaal wie regeer. Die Konserwatiewe Party regeer Brittanje derhalwe met slegs ongeveer 37% van die kiesers wat die party ondersteun.

Prentjiebron: 123RF

 

Comments

Popular posts from this blog

Grondwetlike Beskerming? Dit hang af van jou ras en kultuur

Ideologie het werklikheid oorgeneem

Hoekom vlug die bevoorregtes uit die Utopia?