Regstelling of Onderdrukking?
Hoekom verset soveel Blanke Suid-Afrikaners (en, toenemend, van hulle Kleurling en Indiër landgenote) hulle teen regstellende aksie en ‘BBBEE’ (vrylik vertaal: Breë Gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging). (Vir die doeleindes van hierdie Mening sal gerieflikheidshalwe verwys word na BBBEE, die meer bekende afkorting vir die Engelse Broad Based Black Economic Empowerment). Net ʼn gek wat in ontkenning leef sal die vernietigende impak van apartheid op die lewensomstandighede en ontwikkelingsgeleenthede van Swart Suid-Afrikaners probeer ontken. Het hierdie Blanke Suid-Afrikaners dan geen gewete, ʼn pligsbesef en ʼn drang om hulle landsgenote wat hulself as gevolg van blatante diskriminasie in armoede bevind, te help nie?
Kan daar dan nie met reg gesê word, in die woorde van Dale McKinley, dat die huidige regering se reaksie op die ongelykhede in die land, geleë is in ʼn situasie waar ʼn kombinasie van die mees bedenklike eienskappe van kolonialisme en ekonomiese uitsluiting saamgekom het, regverdig en billik is nie?
Sedert 1994 het die nuwe regering ʼn beleid gevolg bekend as ‘Black Economic Empowerment.’ Die toepassing van hierdie beleid het gelei tot ʼn situasie waar ʼn klein groepie Swart sakemanne enorm ryk geword het, terwyl die massas van hulle Swart landgenote desperaat arm gebly het. Tog het die beleid ongetwyfeld ook bygedra tot die totstandkoming van ʼn Swart middelklas.
Die wesenlike van hierdie beleid, die oogmerke en resultate daarvan, kan waarskynlik saamgevat word in Mary Alexander se siening dat die beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging nie slegs ʼn morele noodwendigheid is om die onregte van die verlede reg te stel nie, maar ʼn pragmatiese benadering tot ekonomiese groei ten einde die land in staat te stel om die land se volle ekonomiese potensiaal te ontsluit.
In 2003 is die beleid van ‘BEE’ (Black Economic Empowerment) vervang met dié van ‘BBBEE’ (Broad Based Black Economic Empowerment’). Die ideaal onderliggend aan hierdie beleidsverskuiwing was om Swart Ekonomiese Bemagtiging breed gebaseerd te maak; met ander woorde, om alle Swart Suid-Afrikaners oor ʼn breë spektrum van die ekonomie voordeel te laat trek. Die nuwe beleid het ten doel om ʼn geïntegreerde en koherent sosio-ekonomiese proses te wees wat direk bydrae tot ʼn aansienlike toename in die aantal Swart mense in die bestuurskader van organisasies. Dieselfde geld vir eienaarskap van die land se ekonomie. Die derde oogmerk van die beleid is om ongelykhede in die land aansienlik te verklein. Die fokusareas van die beleid was derhalwe geïdentifiseer as menslike hulpbronontwikkeling, gelyke indiensneming, voorkeur verkrygingsprosedures, sowel as beleggings en eienaarskap van maatskappy en ekonomiese bates.
Die 2003 beleidsinisiatiewe het drastiese hersiening van bestaande Kodes vir Swart Ekonomies Bemagtiging geïmpliseer. Die hersiene kodes het veral ten doel om ‘fronting’ te voorkom (die praktyk ingevolge waarvan maatskappy eienaarskap en ander maatreëls kunsmatig manipuleer ten einde op die oog-af aan Swart bemagtigingsvereistes te voldoen, maar sonder om werklik Swart mense te betrek of te bemagtig). Die duidelikste implikasies van hierdie beleid is dat maatskappye wat nie aggressiewe Swart Ekonomiese Bemagtiging teikens bereik nie, baie moeilik in aanmerking sal kom vir kontraktering deur die regering. Dit sluit egter ook in verrykende maatreëls wat dit feitlik onmoontlik sal maak vir Blanke besighede wat nie aan die vereistes voldoen nie, om lisensies te bekom (insluitend vir in-en-uitvoere, en selfs dranklisensies). Daar is ook aggressiewe benadeling van maatskappye wat nie aan die vereistes van die kodes voldoen nie, ingebou in die hersiene beleid.
Die beleidsdokument waarop die hersiene BBBEE raamwerk gefundeer is, ʼn dokument getiteld ‘South Africa’s Economic Transformation: A Strategy for Borad-Based Black Economic Empoerment,’ stel dit dat die BEE kriteria toegepas sal word wanner besluite aangaande die volgende aangeleenthede geneem word:
-- Die toekenning van lisensies om in ʼn bepaalde gereguleerde ekonomiese aktiwiteit toegeken word.
-- Die toekenning van ʼn konsessie aan ʼn privaat organisasie om dienste namens die staat te lewer, of bates op sodanige wyse te bestuur.
-- Die verkoop van staatsbates, of ʼn staatsbeheerde maatskappy.
-- Openbare-privaat vennootskappe.
-- Enige ekonomiese aktiwiteit.
Die telkaart wat toegepas sal word wanneer nakoming gemeet word, sal die volgende elemente en gewigte bevat: Eienaarskap (persentasie van eienaarskap in Swart hande): 20%, bestuur (persentasie van Swart persone in herende posisie in die maatskappy): 10%, regstellende aksie in samestelling van personeel: 10%, vaardigheidsopleiding: 20%, voorkeur verkryging (gekontrakteer aan Swart verskaffers): 20%, organisasie-ontwikkeling (belegging in bates onder Swart beheer, en 10% kan deur die bepaalde sektor bepaal word.
Volgens my is die grooste voordeel van die gewysigde riglyne (beleid) die klem wat gelê word op die bevordering van klein tot midde-grootte swart maatskappye (wat basiese die bevordering van Swart entrepreneurskap behels).
Op hierdie punt sal ek graag wou terugkeer na die gestelde oogmerke van die gewysigde beleid, en dit as volg opsom:
-- Maak seker dat Swart Ekonomiese Bemagtiging breed gebaseer is.
-- Toename van Swart mense in bestuursposies in die korporatiewe sektor.
-- Om aansienlik meer ekonomiese bates onder Swart eienaarskap te plaas.
-- Om ekonomiese ongelykhede in die land te verminder.
Hoeveel van hierdie oogmerke het werklik ten doel om die volle ekonomies potensiaal van die land te ontsluit? Onthou, een van die twee oorkoepelende oogmerke (die pilare) van die beleidsinisiatiewe rondom Swart Ekonomiese Bemagtiging, is juis hierdie ideaal (of dit is veronderstel om te wees).
Na my mening is die antwoord op boegenoemde vraag slegs een; en daardie een is om seker te maak dat Swart Ekonomiese Bemagtiging breed gebaseer is. Breed- gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging sal onmiskenbaar tot die ontsluiting van die land se ekonomiese potensiaal bydrae, want dit impliseer nuwe besighede, met nuwe werknemers, wat sal bydrae tot die vergroting van die ekonomiese koek.
Die ander drie gaan oor één ding, en een ding alleen; en dit is om eienaarskap van, en betrokkenheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie oor te dra van Blankes na Swart mense. Daar is twee duidelik onderskeibare beginsels hier ter sprake; naamlik herverdeling teenoor ontwikkeling. Die een impliseer uitbreiding en vergroting; die ander skommelinge binne dieselfde omvang. Die hertoewysing van bates en geleenthede sal nie tot ontwikkeling en uitbreiding lei nie, maar slegs tot die transformasie van die aangesig van die bestaande realiteit.
Vir my is dit die wesenlike van Swart Ekonomiese Bemagtiging; die onuitgesproke werklike oogmerk daarvan: Om te neem van Blankes en dit oor te gee aan Swart mense. En die werklike rasionaal daaragter? Om ʼn ongeduldige Swart kieserskorps wat aandring op sigbare benadeling van Blankes en bevoordeling van Swart mense tevrede te stel. Ironies genoeg is die huidige regering se grootste vriend die statistiek wat aandui hoeveel ryker en meer bevoordeel Blanke Suid-Afrikaners is in vergelyking met hulle Swart landgenote. Hoekom? Want dit gee legitimiteit en populêre steun aan ʼn regering wat toenemend steun verloor as gevolg van korrupsie en wanregering.
Hoe gaan die volgende beleidsinisiatiewe die lot van die meerderheid Suid-Afrikaners verbeter? Die persentasie van eienaarskap en bestuur van maatskappye in Swart hande? Die samestelling van die personeelkorps van maatskappye? Voorkeur verkrygingsprosedures en maatreëls? Persentasie van bates in Swart beheer? Hierdie maatreëls gaan onmiskenbaar ʼn klein groepie Swart mense bevoordeel, en kan selfs bydrae tot die vestiging van ʼn betekenisvolle Swart middelklas, maar met die onsluiting van die volle potensiaal van die Suid-Afrikaanse ekonomie het dit niks te doen nie.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek is oortuig daarvan dat Swart Suid-Afrikaners ʼn werklike en legitieme reg het om daarop aan te dring dat geleenthede wat voorheen van hulle ontneem was, nou vir hulle ontsluit en toeganklik gemaak word. Ten einde dit te bereik, is ʼn vorm van regstellende aksie noodsaaklik. Binne hierdie konteks het ek begrip vir een van die elemente van die telkaart hierbo aangehaal, naamlik regstelling in die personeelkorps van maatskappy (alhoewel ek nie saamstem met die wyse waarop dit in Suid-Afrika toegepas word nie. Dit is egter ʼn besprekingspunt vir ʼn ander geleentheid).
Na my mening behoort individuele rykdom heeltemal buite rekening gelaat te word wanneer wetgewing rondom gelykheid opgestel word; vir individuele rykdom behoort deur gewerk te word; deur entrepreneurskap, of deur jouself te bewys as ʼn goeie werknemer, en sodoende bevordering te verkry op grond van meriete. Hierdie proses behoort kleurblind te wees; behalwe vir regmatige en werklik nodige maatreëls om bepaalde teikengroepe ʼn voordeel te gee, binne ʼn konteks van bewese effektiwiteit en doeltreffendheid, ten einde ongeregtighede van die verlede reg te stel.
Wat in Suid-Afrika gebeur het, en nou slegs op gedwonge wyse van die openbare na die privaatsektor verplaas word, is die ondeurdagte vervaging van kundigheid en ervaring, ʼn kollektiewe korporatiewe geheue noodsaaklik vir ontwikkeling en uitbreiding, deur die invoer van polities en ideologies-gedrewe onkundigheid sonder ervaring en die vereiste beroeps- en sektorale verwante vaardighede. Die gevolg sal wees presies wat in die staatsdiens gebeur het: Massiewe korrupsie, verval en agteruitgang.
Sonder om enige voorbeeld te probeer voorhou as die ideale model, bevat die Amerikaanse toepassing van regstellende aksie na mening verskeie navolgenswaardige elemente. Die beginsel is deurlopend dat regstelling toegepas kan word ten einde onregte van die verlede reg te stel, maar dat dit op so ʼn wyse gedoen moet word dat daar nie inbreuk gemaak word op die basiese Grondwetlike en menseregte van ander groepe nie. Maar selfs dan moet dit onmiddellik duidelik gestel word dat die Amerikaanse weergawes van regstellende aksie geen elemente bevat wat die gedwonge oordrag van bates en inisiatiewe gebaseer op persoonlike energie (soos entrepreneurskap of besigheid-eienaarskap) ondermyn nie.
Ek sien niks in die nuwe, gewysigde beleidsmaatreëls wat my daarvan oortuig dat daar ʼn wegbeweeg van die tradisionele konteks van Swart Ekonomiese Bemagtiging is nie, en is oortuig daarvan dat die prioriteit fokus groepe (en individue) vir bemagtiging’ steeds maar diegene is wat naaste aan die regerende elite beweeg (en, natuurlike, eerstens en belangrikste, die regerende elite hulself). Hoe het Smuts Ngonyama dit destyds gestel: “Ek het nie deelgeneem aan die vryheidstryd om arm te wees nie.”
Wat in die praktyk in Suid-Afrika gebeur, is die massiewe, gedwonge oordrag van bates in Blanke hande na ʼn klein groepie Swart elite wat toegang het tot die een groot hulpbron om rykdom te bekom, naamlik politieke mag. Sogenaamde bemagtigingswette word op enorme skaal aangewend om ʼn klein groepie, die super-elite, te verryk en te bemagtig, en apartheid word gebruik om dit te legitimiseer en aan ʼn skeptiese Swart kieserskorps te verkoop.
Wat oorbly is suiwer inmenging in eienaarskap en ekonomiese aktiwiteit van ʼn regering wat gesien wil wees dat hulle Blanke Suid-Afrikaners ‘straf’ vir apartheid. Die gewysigde BBBEE kodes maak dit feitlik onmoontlik vir ʼn Blanke Suid-Afrikaner om haar of sy entrepreneurskap uit te leef, en vereis die grootskaalse oordrag van bates van een rassegroep na ʼn ander – en die enigste kriteria daarvoor is ras. In die proses word die grootste enkele bron van intellektuele energie uit die ekonomie geneem – en word buitelandse beleggers in groot skaal weggejaag.
In die woorde van Gerhard Papenfus, Hoofuitvoerende Beampte van die Nasionale Werkgewers Assosiasie van Suid-Afrika, sal die gewysigde BBBEE wetgewing, saamgelees met die Wet op Gelyke Indiensneming, Suid-Afrika “... the most racilly defined nation in the world.” Dit is nie regstelling nie, maar net nog ʼn maalpyl in die tendens van subtiele rasse- ondrukking van minderheidsgroepe in die land – en dit sluit toenemend Kleurlinge en Indiërs in, en is lankal nie meer eksklusief tot Blankes beperk nie.
Bronne Geraadpleeg:
Alexander, Mary. Black Economic Empowerment. Media Club South Africa. Afgelaai 30 Desember 2014. Webwerf verwysing: http://www.mediaclubsouthafrica.com/component/content/article?id=79;bee
Allix, Mark. 2014. Mixed reaction to new BEE law. Business Day Live. 11 February 2014. Afgelaai 30 Desember 2014. Webwerf verwysing: http://www.bdlive.co.za/business/2014/02/11/mixed-reaction-to-new-bee-law.
Department of Trade and Industry, SA. 2013. South Africa’s Economic Transformation: A Strategy for Broad-Based Black Economic Empowerment.
Holmes, Thalia. 2013. BEE: Good news for small black companies, bad news for big ones. Mail and Guardian on-line, 3 October 2014. Afgelaai 30 Desember 2014. Webwerf verwysing: http://mg.co.za/article/2013-10-03-bee-good-news-for-small-black-companies-bad-news-for-big-ones
McKinley, Dale T. 2011. The Real History and Contemporary Character of Black Economic Empowerment. The South African Civil Society Information Service.
Hierdie artikel was reeds in 2014 geskryf. Ek wil nou graag al die verwysings na die “subtiele” onderdrukking van Blanke Suid-Afrikaners op rasse-gronde daaruit verwyder, en vervang met “blatante”. En intussen het die blatante diskriminasie slegs toegeneem in omvang en indringendheid .
Image source: 123RF

Comments
Post a Comment