Afrikaners, verset of aanvaarding
As jy dink die diskriminasie gaan binnekort tot ʼn einde kom, leef jy in ʼn gekkeparadys.
Daar is twee breë groeperinge in die Afrikaner-gemeenskap in Suid-Afrika; diegene wat glo in die uitkomste van die 1994 grondwetlike ooreenkomste, en diegene wat nie glo dat die beloftes van gelykheid en billikheid sal realiseer nie.
Daar word geargumenteer dat, na beraming, net meer as 50% van Afrikaners in 1992 “nee” gestem het, in die referendum wat FW de Klerk gehou het om goedkeuring van Blanke kiesers te kry om voort te gaan met die Grondwetlike onderhandelinge met die ANC en ander Bevrydingsbewegings. Net meer as 68% van Blanke kiesers het “ja” gestem, en net minder as 32% “nee”. Indien geargumenteer word dat in die omgewing van 58% van Blanke Suid-Afrikaners as “Afrikaners” gedefinieer kan word, maak die somme sin. Dit is waarskynlik dat meer as 95% van Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners ten gunste van die voortsetting van die onderhandelingsproses gestem het.
ʼn Totaal van 2,799, 806 geldige stemme was uitgebring (nadat bedorwe stemme afgetrek was). Hiervan het 1,924,186 kiesers (of 68,73%) “ja” gestem, en 875,619 (31,72%) “nee”. Indien die Afrikaners 52% van hierdie kiesers uitgemaak het, was dit 1,623,887 persone. Indien 52% van hierdie groep “nee” gestem het, was dit ongeveer 844,421 persone. Die balans van 31,198 kiesers wat “nee” gestem het, was waarskynlik die Engelssprekende Blanke kiesers (ongeveer 1,1% van kiesers) wat nie die voorsegging van die onderhandelinge ondersteun het nie.
Daar is ʼn aanname onder (veral linksgesinde) kommentators vandag dat die pro-Trump stemme, en diegene wat beswaar maak teen diskriminasie teen Afrikaners, meestal (en self uitsluitlik) die “nee-stemmers” verteenwoordig wat deur die voorafgaande 32 jaar in die skaduwees geskuil het, en nou openlik hulle stemme laat hoor.
In April 2026 het die beweging Betereinders ʼn meningsopname onder Afrikaners gehou wat aangedui het dat ongeveer 40% van Afrikaners saamstem dat daar ʼn volksmoord onder Afrikaners aan die gang is. Sodanige mening is ekstreem. Selfs nie eens iemand soos ek, gegewe my eie politieke sieninge, stem hiermee saam nie. Ek glo dat daar rassediskriminasie teen Blank Suid-Afrikaners, en dan spesifiek Afrikaners, is, maar nie volksmoord nie.
Vir my dui hierdie meningsopname op politieke verharding in die houding van ʼn aansienlike deel van die Afrikaner-gemeenskap.
My punt is nie dat die meerderheid Afrikaners polities fundamentalisties gedraai het nie. My punt is dat die waarnemings en aannames oor ongeveer die helfte van Afrikaners vandag nog ʼn konserwatiewe uitkyk op die Suid-Afrikaanse politiek het, waarskynlik korrek is. Gegewe die beginsel van die “stille meerderheid”, en verkwikkinge in die Suid-Afrikaanse gemeenskap sedert 1992, is ek persoonlik van mening dat 60% van Afrikaners in verset is teen die rasse – en kulturele diskriminasie en marginalisering wat teen hulle gepleeg word in die land, terwyl 40% steeds ondersteuners is van transformasie.
Engelsprekende Blanke Suid-Afrikaners is waarskynlik steeds in ʼn oorweldigende meerderheid ondersteuners van die huidige bestel.
Die Betereinders se meningsopname het ook aangetoon dat ongeveer 56% van Afrikaners steeds optimisties is oor die potensiaal vir ʼn beter toekoms in Suid-Afrika. Dit is waar my argument oor illusies van die werklikheid inkom.
Ek is ʼn Afrikaner. My voorgeslagte het hulself, as deel van die Franse Hugenote, in 1688 aan die Kaap gevestig. Hulle was setlaars. Enige onregte wat hulle egter teen Swart Afrikane gepleeg het, oor die meer as 300 jaar wat sedertdien verloop het, was nie my skuld nie; ek het geen aandeel daaraan gehad nie. Maar ek word vandag soos ʼn krimineel behandel in die land waarin ek gebore is, die enigste wat ek ooit as tuiste geken het, oor iets wat voorsate skynbaar deur die eeue gepleeg het, sonder enige skuld aan my kant. Dit is suiwer rasse – en kulturele diskriminasie. Suiwer rassisme.
Ek stel nie belang in enige voorkeurbehandeling oor my ras of kultuur nie, maar ek dring aan op gelyke behandeling.
Daar word nie teen my gediskrimineer ten einder Swart Afrikane te bevoordeel nie, maar om ʼn klein groepie staaskapers en gierige grypenaars te verryk en te beskud teen die gevolge van hulle misdade. Die land verval, en daar word links-en-regs gesteel. Alles word regverdig in die naam van “kol9nialisme en apartheid.”
As jy van mening is dat dit binnekort sal beter gaan, leef jy in ʼn droomwêreld.
Dit is ʼn kwessie van tyd voordat grootskaalse grondgrype gaan realiseer. Die gees en gesindheid in regerende kringe in Suid-Afrika rondom die aangeleentheid is toenemend fundamentalisties en militant. Dit is nie net die MKP en EFF wie se uitsprake dui op ʼn naderende ramp nie, maar ook die van die linkse faksie in die ANC. Nie net dit nie, maar die DA se mening oor nasionalisering sonder vergoeding is “genuanseer”, en kom baie beslis nie neer op eenvoudige en reguit verwerping nie. Dit is ʼn DA minister wat agter onlangse intensivering van sogenaamde “transformasie wetgewing” in die landbousektor sit.
Dit gaan ook nie net oor grond nie. Die verskuilde taal agter toenemende uitsprake rondom “ruimtelike beplanning” in stede en dorpe is duidelik: Middelklas woongebiede moet geïntegreer word met lae-koste behuising. Dit sal eiendomswaarde vernietig, deels omdat dit misdaad gaan invoer, op veel groter skaal was wat alreeds ʼn misdaagplaag is.
Die kulturele marginalisering van die Afrikaner se taal en kultuur word toenemend verskerp. Die Bela wet se vernaamste doel is om van Afrikaans in die onderwysstelsel ontslae te raak. Dit is ʼn DA minister wat die implementering van hierdie wetgewing dryf.
Die regering het ʼn geweldige woede en argwaan ontwikkel oor Trump se uitsprake en optrede oor rasse-diskriminasie in Suid-Afrika. Ramaphosa se identiteit was sterk gevestig in sy persepie van homself as ʼn internasionale staatsman, iemand wat ver bo sy land se werklike gewig in die wêreld speel. Trump het hierdie “werklikheid” vernietig; nie net deur die ANC se persepsie van ditself sedert 1994 as ʼn morele gesag wêreldwyd te bevraagteken, op grond van die land se rasse-beleid nie, maar ook deur die land, vir alle praktiese doeleindes, uit die G20 te skop.
In die middel van al hierdie verwikkelinge het die Afrikaner gestaan, insluitend Afrikaner- gebaseerde burgerregte organisasies wat internasionale skakeling met invloedryke groepe in die VSA gehad het oor die diskriminasie in die land, sowel as die sluimerende strydbyl oor plaasaanvalle. In die media het Afrikaners met ongekende openlikheid verset uitgespreek teen die rasse diskriminasie wat teen hulle gepleeg word, en die verval teweeggebring deur meer as dertig jaar van korrupsie en wanbestuur deur die ANC regering.
Dit het geweldige woede veroorsaak. Daar is geen aanduiding dat die situasie in die afsienbare toekoms gaan verbeter nie. Die wetgewende raamwerk vir grootskaalse onteiening van Afrikaners is in plek. Die uitsprake van senior ANC ministers, insluitend Ramaphosa, is toenemend antagonisties teenoor Afrikaners. Die DA swaai al meer na links, en ondersteunde van transformasie, want die party se leierskap het besluit om te agiteer vir onderstenuning vanuit Swart gemeenskappe, en (in die proses) die risiko te aanvaar dat hulle tradisionele Afrikaner ondersteuners mag verloor.
Ongeveer die helfte van Afrikaners bereid om die flagrante rassediskriminasie te aanvaar, as noodsaaklik vir “transformasie”. Die ander helfte is toenemend geneig tot verset teen die diskriminasie. Dit is wat dit is; ek weet om nie aan te neem dat ek die meerderheid Afrikaners se mening reflekteer nie.
Prentjiebron: Pixabay

Comments
Post a Comment