'n Nuwe visie vir Suid-Afrika
Ek moet erken dat sommige van die dinge wat die Comrades sê en doen my geweldig irriteer; meer as die “gewone”. Een sodanige geval is die onlangse plasing op X, toegeskryf aan Cyril Ramaphosa.
Ek onthou nog die dae van Nelson Mandela en die Reënboognasie. Die verskil tussen toe en nou is dat Mandela die idee van versoening werklik bedoel het. Tog het hierdie versoening toe-al saamgegaan met “totale verandering”, met “omvangryke transformasie.” Maar dit kon begryp word; daar was inderdaad enorme onregte, gebaseer op jare van blatante rasse-diskriminasie, wat aangespreek moes word.
Aanvanklik was ras-gebaseerde regstellende optrede, en maatreëls, in Suid-Afrika genuanseer en aanvaarbaar. Selfs die maatstaf van 80/20 en 90/10 vir die toekenning van staatskontrakte was binne aanvaarbare riglyne van optrede om ongelykhede aan te spreek.Ter verduideliking: Straatskenders moes geëvalueer word volgens ʼn stelsel wat 80% waarde toegeken het aan funksionele kennis en erkenning van die tegniese vereistes van ʼn tender, sowel as aan prysaanbod; terwyl 20% van die evalueringsgewig toegeken was “voorkeur” kriteria, insluitend ras en plaaslike vervaardiging. Dit was in geval van tenders met ʼn geskatte waarde van minder as R500,000. Indien die tenderwaarde hierdie bedrag oorskry het, was die 90%/10% gewigte vir beoordeling toegepas.
Die ding is net dat hierdie stelsel nooit werklik toegepas was soos dit geskryf was nie. Wat in die praktyk gebeur het, was dat maatskappye wat oornag geregistreer was, onder die meerderheidsaandeelhouding van sogenaamde voorheen-benadeelde individue, reuse tenders begin wen het, terwyl hulle pryse tien keer hoër was as die van gevestigde diensverskaffers met jare se ondervinding, maar wat nie aan die “bemagtigsvereistes” voldoen het nie.
Ja, daar was, tot ʼn mate, korrupsie in die voor-1994 staatsdiens; veral waar kontrakte toegeken was aan familie of vriende. Dit was egter skaars, want tender-toekennings wa sgemaak op grond van 'n buraokratiese proses van oorewging en opweging, en uiters selde die geval met groot en duursame projekte. Selfs waar dit wel voorgekom het, was die goedere en dienste gelewer van uitstekende gehalte, en streng ooreenkomstig die tender voorwaardes. Betalings was slegs gemaak nadat die goedere en dienste volledig gelewer was.
“Gelyke indiensneming” het die staatsdiens, en veral munisipaliteite, totaal vernietig. Die omvang en intensiteit van ideologie-gedrewe regstellende aksie sedert 1994 word totaal onderskat. Veral in munisipaliteite was bekwame amptenare, wat uitstekende administrasies in stand gehou het, en van die beste dienslewering moontlik aan hulle gemeenskappe gelewer het, dikwels op brutale, diktatoriale wyse, uitgedwing. Plek was gemaak vir kaders, sonder die vereistes vaardighede, en gedryf deur ideologie, eerder as die strewe na administratiewe uitnemendheid.
In die jare onmiddellik opvolgend op die 1994 oorgangsproses, het hierdie ding van “potensiaal” aanstellings in die staatsdiens totaal gedomineer. Die eenvoudige waarheid was altyd daar daar geen wyse is waarop "potensiaal" gemaat kan word nie, en dat dit altyd maar 'n verskoning was vir kader-ontplooing. ANC politici het openlik, en sonder enige skaamte, reguit gesê dat transformasie vooropgestel moet word, en meriete nie die deurslaggewende oorweging in aanstellings mag wees nie. Hulle het ook oral die algehele nonsens loop en verkoop dat Blankes oorgeërf uit die vorige bedeling die agenda van die nuwe regering saboteer. Die waarheid was altyd dat hierdie mense inderwaarheid uitmuntende staatsamptenare was wat lojaal was, en sou gewees het, aan diegene wat die land regeer. Dit was die kultuur waarbinne hulle geslyp was, van die dag wat hulle aangestel was.Ook het hulle deur 'n stelsel beweeg waar hulle vaardighede geleidelik geslyp was, tot op die punt waar hulle uitmuntend in hulle werk was.
Duisende uiters bekwame amptenare en werknemers van munisipaliteite en staatsbeheerde ondernemings is uit hul poste gedwing, onder dwang van politieke ideologie. Hulle was vervang deur amptenare wat geen geskiedenis van prestasie of ondervinding gehad het nie, en bloedweinig kennis van administratiewe of diensleweringsstelsels en prosesse. Dit was ook nie belangrik nie; alles het begin draai om politieke ideologie en lojali5tiete. Die institusionele stelsels van organisatoriese leer-deur-toepassing was binne minder as 'n dekade totaal vernietig. Selfs waar amptenare die ondervinding opgedoen het, was die stelsels van die vorige staatsdiens as "uitgedien" en argaïes" verwerp. Organisatoriese geheue het totaal verlore gegaan, en de nuwe geheues wat geskep was, is gebaseer op ideologie en kader ontplooiing. Soos hierdie prosesse voortgegaan het, het denslewering in duie gestort.
Tog, veral in die nasionale en provinsiale administrasies, was daar ʼn groter mate van ewewigtigheid, en het die proses van vervanging van bekwame werkers deur ideologiese kamerade meer geleidelik plaasgevind. Belangrik: Die privaatsektor was die geleentheid gegun om die proses van transformasie op ʼn georganiseerde wyse te onderneem.
Die punt is dit: Aanvanklik was daar, ten spyte van ideologies-gedrewe onregte, tog ʼn mate van balans in transformasie in die land. Maar, soos die tyd aangestap het, het die vernietiging snel toegeneem. Toe egter het die rassisme in die stelsel van transformasie toenemend begin toeneem; deels omdat die meer fundamentalistiese Sosialistiese faksie in die ANC die oorhand begin kry het binne die party, en deels omdat die beskikbare bronne die staatsdiens om te gryp en te steel uitgeput begin raak het, en nuwe bronne gevind moes word.
Gedurende die eerste 15 jaar na die 1994 politieke oorgangsproses het ek slegs sporadies van gevalle gehoor waar Blanke persone opsetlik uit hul poste gedwing was om plek te maak vir kaders. Ek self kan getuig dat daar nog geleenthede oop was vir Blanke Suid-Afrikaners om deur bewese bekwaamheid tenders in die staatsdiens te wen.
In die afgelope 15 jaar het dinge drasties verander. Die “plek maak vir BBBEE-compliant” kandidate, in alle sektore van die ekonomie, het ʼn algemene verskynsels geword. Die aanstelling van onderpresteerder, onbekwame, maar Swart Ekonomiese Bemagtiging voldoenings diensverskaffers, teen enorme koste, het algemene praktyk geword in die breër staatsdiens. Alles het begin verval.
Dit is nou behalwe die opsetlike stille oorlog wat teen my taal en kultuur gevoer was; die opsetlike uitbanning van alles Afrikaans en Afrikaner uit die openbare oog, die skaamtelose aggressie van uiters invloedryke politici, insluitend Presidente, van openbare verhoë af, gerig teen Afrikaners, die verwydering van standbeelde en die veranderinge van die name van stede, dorpe en strate.
My probleem is dit: Cyril Ramaphosa maak geen geheim van sy fundamentalistiese aggressie teenoor Afrikaners en Blanke Suid-Afrikaners in die algemeen nie; om die waarheid te sê, sy toesprake wemel daarvan (en dan by name, sy aggressie oor historiese gebeure). Hy is een van die mees aggressiewe voorstanders, en verdedigers, van regstellende aksie en ander vorme van diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners, op grond van wat hy sien as “historiese onregte.”
Ek neem daarom aan dat sy oproep vir Suid-Afrikaners om “opnuut bymekaar te kom en te besin oor ʼn nuwe visie vir die land”, waarskynlik, as ononderhandelbare voorwaardes, insluit my uitsluiting van ekonomiese geleenthede, en die verskerpte marginalisering van my taal, kultuur en identiteit in die land.
'n Nuwe visie om nog 'n dekade te koop vir impalming en diskriminasie. Nee dankie. Nie eers ʼn donkie stamp sy kop twee keer teen dieselfde klip nie.
.Prentjiebron: 123RF

Comments
Post a Comment