Sal die regte Vryheidsfront Plus asseblief opstaan?
Ek kan nie eenvoudig nie begrip wat
presies die Vryheidsfront is nie. Miskien moet iemand uit die party ʼn slag
probeer om dit aan my, en kiesers in die algemeen, te verduidelik.
Dit wil my voorkom asof die
Vryheidsfront Plus ʼn “light” weergawe van die DA is. Nou-dan, indien dit die
geval is, hoekom sal ek nie eerder vir die DA “original” stem nie?
Ek haal aan uit (of vanaf) die webwerf
van die Vryheidsfront Plus:
“Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) is
onherroeplik verbind tot die verwesenliking van gemeenskappe, in die besonder
die Afrikaner, se internasionaal erkende reg op selfbeskikking, territoriaal en
andersins, die handhawing, beskerming en uitbouing van hulle regte en belange
asook die bevordering van die reg op selfbeskikking vir enige gemeenskappe in
Suid-Afrika gebind deur ʼn gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis.”
Die Vryheidsfront Plus is reg: Die
Verenigde Nasies se Stigtingsmanifes erken die reg van volkere om hulself te
regeer, deur interne – of eksterne meganismes (dit wil sê, deur vestiging van ʼn
geografiese staat, of deur self-besluitneming binne die grense van ʼn bestaande
staat - en die teenwoordigheid van ander kulturele groepe).
Daarom is die bepalings van Artikel
235 van die Grondwet vir my besonder interessant:
“235. Die Suid-Afrikaanse bevolking as
geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet
nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die
reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op
selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander
wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.”
Punt is, wat doen die Vryheidsfront
daaraan, wat ʼn aanduiding kan gee van waarheen hulle op pad is met Afrikaners?
Daar is Orania, die dorpie in die
middel van Suid-Afrika, met geen ander bure as Suid-Afrika nie, nie aan die see
(of enige ander land) grens nie, wat aan die Suid-Afrikaanse regering belasting
betaal. Verset teen die begrip, en die bestaan, van “Orania” het in die jongste
verlede geweldig toegeneem. Orania word nasionaal en internasionaal gesien as
deel van die grondgebied, en jurisdiksie, van Suid-Afrika. Dit het geen
vooruitsigte om in ʼn selfstandige onafhanklike staat met ʼn volhoubare ekonomie
en staatsbestel te ontwikkel nie. Dit het geen historiese aanspraak om as die
grondgebied van die Afrikanervolk beskou of erken te word nie. En selfs as sou
die status as ʼn Afrikanerstaat erken word, hoeveel Afrikaners sal bereid wees
(of ekonomies in ʼn posisie) om na ʼn klein dorpie in die middel van ʼn semi-woestyn
gebied te verhuis? Nie ek nie; wat sal ek daar gaan doen?
Die ander ideaal van die Vryheidsfront
Plus is ...
“... die handhawing, beskerming en
uitbouing van hulle regte en belange asook die bevordering van die reg op
selfbeskikking vir enige gemeenskappe in Suid-Afrika gebind deur ʼn
gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis.”
Sedert 1994 het die Vryheidsfront Plus
nog niks bereik in die nastrewing van hierdie doelstellings nie.
Ek haal weereens aan uit die party se
webwerf:
“Die belangrikste gebeurtenis in die
eerste politieke termyn was die skryf van Suid-Afrika se nuwe grondwet. Hieraan
het die Vryheidsfront aktief deelgeneem en veral gefokus op die insluiting van
selfbeskikking en groepsregte in die grondwet. Dit het meegebring dat die
Vryheidsfront ʼn sleutelrol gespeel het in die insluiting van die volgende
artikels in die nuwe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van
1996):
Artikel 30 en 31 wat kollektiewe regte
vir taal-, en kultuurgemeenskappe erken;
Artikel 185 wat voorsiening maak vir ʼn
Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-,
Godsdiens- en Taalgemeenskappe;
Artikel 235 wat verwys na die konsep
van die reg op territoriale selfbeskikking.”
Met ander woorde, die Vryheidsfront
Plus se "claim to fame" is dat hulle groepsregte in die Grondwet
ingeskryf gekry het. Daar is meriete in die argument, maar dan slegs op 'n
tegniese punt (en nie op 'n substansiële vlak nie). Die tegniese punt is dat
die gemelde artikels inderdaad verwysings na groepsregte maak.
Artikel 30 van die Grondwet bepaal as
volg:
“Elkeen het die reg om die taal van
eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem,
maar niemand wat hierdie regte uitoefen mag dit doen op ʼn wyse wat met enige
bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.”
Tegnies is die reg op die beskerming
van taal in die Grondwet opgeneem. Prakties, substansieel, het die Grondwetlike
Hof reeds deur verskeie uitsprake die regsreël neergelê dat
regeringsdepartemente en akademiese instellings die reg het om van Afrikaans ontslae
te raak. Die regering erken nie Afrikaans as ʼn Afrika-taal nie, wat beteken dat
dit nie die bevorderingsgeleenthede geniet wat met sodanige status gepaard gaan
nie. Die taal word opsetlik gemarginaliseer – en met die goedkeuring van die
howe, wat veronderstel is om die Grondwetlike status daarvan te handhaaf en te
beskerm.
Die ANC se onderhandelingspan het die
Vryheidsfront ore aangesit in 1994 deur die toevoeging van die laaste gedeelte
daarvan, naamlik...
“... iemand wat hierdie regte uitoefen
mag dit (nie) doen op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte
onbestaanbaar is nie..."
Dit was hierdie gedeelte van die wet
wat as verskoning gebruik was om Afrikaans se status te ondermyn.
Tipies van die ideologiese en
ongebalanseerde aard van hofuitsprake in die verband, was die uitspraak in die
saak AfriForum and Another v University of the Free State 2018. Die
meerderheidsuitspraak kan opgesom word in hierdie aanhaling daaruit:
“It was the use of Afrikaans as a
second major medium of instruction that frustrated racial integration and
generated racial tension. When the majority of white Afrikaner learners use
English like all other students and only a few use Afrikaans, the prospects of
we being “united in our diversity” and building “a united and democratic South
Africa”, alluded to by Professor Gerwel, would be enhanced.”
Die waarheid is: Alles wat na taal en
kultuur verwys, word deurgetrek na apartheid, en sodra dit gebeur, verloor die
Afrikaner alle regte, en dan spesifieke kulturele - en taalregte.
(Daar was wel die uitspraak in die
saak van Chairperson of the Council of UNISA v AfriForum NPC, wat UNISA
verplig het om sy afskaffing van Afrikaans as medium van onderrig aan die
instelling te hersien. Maar intussen het Afrikaans in elk geval verdwyn, saam
met die ineenstorting van administrasie by die instelling).
Artikel 31 van die Grondwet:
“31. (1) Persone wat aan ʼn kultuur-,
godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met
ander lede van daardie gemeenskap
(a) hul kultuur te geniet, hul
godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en
(b) kultuur-, godsdiens- en
taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand
te hou en daarby aan te sluit nie.
(2) Die regte in subartikel (1) mag
nie uitgeoefen word op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte
onbestaanbaar is nie.”
Wat is die eerste ding wat u opval
wanneer u bogenoemde bepalings lees? Die antwoord moet wees:
Die regte in subartikel (1) mag nie
uitgeoefen word op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte
onbestaanbaar is nie.
Daarom word die kulturele regte van
Afrikaners doodeenvoudig gelyk gestel met apartheid, en teenstrydig verklaar
met die Handves van Menseregte - en geminag (definitief nie beskerm nie).
Kyk, as daar nou regtig een kommissie
is wat nie alleen totaal nutteloos is nie, maar veel meer van 'n gevaar as 'n
beskermheer vir Afrikaners en Afrikaans is, is dit nou die Kommissie vir die
Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en
Taalgemeenskappe. Ek gaan nie eers verder daarop uitbrei nie - daar is niks om
op "uit te brei" nie.
Hier is vir my die kern van die
probleem met die Vryheidsfront Plus: Die leierskap bestaan uit ʼn groep mans wat
totaal domineer, en sedert 1994 deel was van die infrastruktuur van die party.
Almal is al sedert 1994, of kort daarna, lede van wetgewers, of die Parlement.
Hulle leef afgesonderde, bevoorregte lewens, omring met (en daarom geweldig
direk beïnvloed deur) die Parlementêre en wetgewende regime wat sedert 1994 in
plek was. Hulle praat “gewone” politiek, soos jy dit sal doen in ʼn land wat as
ʼn gesonde, gebalanseerde demokrasie funksioneer, terwyl die mense wat hulle
ondersteun in ʼn totaal ander werklikheid leef, waar dit gruwelooslik teen hulle
gediskrimineer word, waar hulle verarm, waar hulle totaal onmatig is.
Verder, en problematies, hulle geldere
word gedomineer en gemonopoliseer, deur die Mulders en Vervoerds (insluitend
aangetroude familiekringe).
Punt is, die Vryheidsfront Plus het
hoegenaamd geen werklike mag of invloed, of die vermoë om iets prakties vir
Afrikaners te doen nie. Maar hulle leierskap en besluitnemers is so vasgevang
in hulle leefwêreld van politieke voorregte en Parlementêre prosedure – en
strukture, dat hulle nie in staat is om buite daardie verwysingsraamwerk te kyk
nie.
Die leierskap van die party sal maande
lank filosofeer oor “Veldtog-slagspreuke” en “benaderings”, voor – en na
verkiesings, terwyl dit inderwaarheid totaal irrelevant is. Die inherente steun
vir die party is omgeveer 1% van die Suid-Afrikaanse kieserskorps. Ongeag
benaderings tot verkiesingsveldtogte, sal die party min of meer daardie uitslag
kry; behalwe wanneer die onontginde poel van potensiële ondersteuners, naamlik
die konserwatiewe kiesers in die DA wat moeg is vir die rassediskriminasie in
die land, oortuig kan word om hulle ondersteuning na die VV+ te herlei.
Dit was wat in 2009 gebeur het, toe
Mmusi Maimane, die eertydse leier van die DA, in ʼn reeks rasse-voorvalle, blind
en eensydig kant gekies het. Maar om hierdie potensiaal te onsluit, is totaal
buite die vermoëns van die huidige leierskap van die party, omdat hulle
bewustheid, hulle paradigma, binne die bestaande orde lê.
Punt is, die Vryheidsfront Plus sal
nooit deur die kontemporêre politieke stelsels en prosesse van Suid-Afrika,
waarbinne dit vasgevang is, hulle oogmerke kan bereik nie. Om die waarheid te
sê, as daar ondersteuningsplafonne ingestel gaan word, soos 5% steun voordat jy
verteenwoordiging kan kry in 'n wetgewer, gaan die party verdwyn.
Die Vryheidsfront Plus spring rond
soos kat op ʼn warm plaat; probeer alles vir almal wees, met ʼn baie vae
gedefinieerde saambindende oogmerk van “selfbeskikking.” Die waarheid is dat
hierdie konsep geformuleer was in die laat 1980s en die vroeë 1990s, toe
omstandighede in die land totaal anders was as wat dit nou daar uitsien. In
daardie jare was die Afrikaners in beheer van die land, en almal het verstaan
wat met “selfbeskikking” bedoel was, naamlik dat enige toekomstige politieke stelsel
in die land die reg van Afrikaners om hulself te regeer op hulle eie
grondgebied en soewereinte jurisdiksie moes insluit.
Dit maak sin indien jy beheer uitoefen
oor die land se grondgebied, en minstens teoreties, die vermoë het om te bepaal
hoe dit opgebreek gaan word ten einde ʼn langtermyn politieke skikking te
bewerkstellig. Prakties is hierdie beginsel, die oogmerk, egter nooit bereik
nie. Orania, as ʼn poging in die verband, was ʼn mislukking. Na meer as dertig
jaar in die “Nuwe Suid-Afrika”, het die begrip van selfbeskikking” vervaag. Dit
het net eenvoudig nie meer trefwydte onder mense wat in die realiteit van ʼn sentralistiese
staat leef waar daar hoegenaamd geen realistiese vooruitsigte is op toekomstige
“selfbeskikking” nie.
Ek sou sê die Vryheidsfront Plus moet ʼn deeglike
ontleding doen van die foutlyne in die Suid-Afrikaanse maatskaplike, -
ekonomiese – en politieke opset (die “regime”) en dan bepaal waar hulle inpas.
Byvoorbeeld, intrinsiek is daar ʼn onmiskenbare foutlyn in die oneweredige en rassistiese
hantering van rasseverhoudinge in die land. Dit is ʼn punt wat, indien
behoorlike gedefinieer, ʼn duidelike onderskeid tussen die DA en die
Vryheidsfront Plus sal trek in die persepsies van kiesers.
Wat gebeur egter tans? Goed in sy werk soos hy mag wees,
pas Pieter Groenewald, as Minister, ook net maar die regstellende aksie beleid
van die regering toe in die departement waarvan hy die politieke hoof is.
ʼn Ander foutlyn is die kulturele, -taal – en menseregte
van Afrikaners. Indien jy, deur jou politieke strategie, die DA gaan dryf tot
op ʼn punt waar hulle gedwing sal word om standpunt in te neem oor die
moraliteit van (en ondersteuning aan) transformasie (die wesenlike elemente van
“regstelling”) in die land, kan ek met 100% sekerheid aanvoer dat die party se
standpunte ʼn ideologiese oriëntasie sal aandui wat vele Afrikaners die harnas
sal injaag. Baie belangrik vir die Vryheidsfront Plus: Dit sal ʼn duidelike,
onmiskenbare skeidslyn tussen die waardes, en beleid, van die DA en VF+ blootlê.
Die tyd vir “niceties” in
Suid-Afrikaanse politiek is verby. Mense moet gedwing word om keuses te maak en
standpunt in te neem. Die regering (wat die DA insluit) gaan voluit vir ʼn manifestasie
van transformasie wat ʼn geweldige risiko’s vir Afrikaners inhou, en dan veral
met die oog op die toekoms. Om te dink dat jy hierdie blatante
rasse-diskriminasie, gegiet in toenemende woede, gaan keer slegs deur “Parlementêre
prosesse”, is uiters naïef. Verset daarteen sal moet oorgaan in buiteparlementêre,
buite tradisionele terreine. Maar die probleem is dat die huidige leierskap van
die VF+ nie toegerus is daarvoor nie; hulle ondervinding en totale benadering
is rigied gegiet in tradisionele politieke prosesse en denkwyses.
Onlangse meningsopnames het getoon dat ongever 40% van
Afrikaners begrip het vir Trump se uitsprake oor volksmoord onder Afrikaners.
Indien voorsiening gemaak word diegene ingesluit in die “Afrikaner”
demografiese groep wat nie noodwendig sodanige mening steun nie, maar wel ver
genoeg gedryf (en gedring) was deur die diskriminasie in die land, sou ek
argumenteer dat ongeveer 60% van Afrikaners potensiële ondersteuners sodanige omvangryke
versetaksie teen die rasse diskriminasie in die land is. Voeg daarby nagenoeg
10% van Engelssprekende Suid-Afrikaners. Dit gee vir jou 2 tot 2 en ʼn halfmiljoen
mense. Daar mag hier-en-daar ondersteuners vir die idee van selfbeskikking
onder ander bevolkingsgroepe wees, maar dit sal altyd minimaal wees.
Dit is die optimale potensiële ondersteuningsvlakke vir ʼn
party soos die Vryheidsfront Plus. Dit is egter ook veel meer as die nagenoeg 200
tot 300 duisend stemme wat die party tans trek. Dit hou ook die potensiaal in
van die konsolidering van politieke steun vir diegene wat gekant is teen die rassistiese,
diskriminerende “regstelling” wat tans in die land gepleeg word.
Die DA se politieke deurbraak in die vroeë 2000s, was Tony
Leon se slagspreuk van “Veg terug.” Dit is presies wat nou nodig is vir die VF+,
maar dan uitgedruk in die taal, en gegiet in die werklikhede, van 2026.
Verder is die Vryheidsfront Plus baie swak in politieke
kommunikasie. Die party slaag nie daarin om sy boodskap by potensiële kiesers
uit te kry nie, en die boodskap op sigself is dikwels onrealisties en
strategies naïef.
Soos nou weer met die komende plaaslike
owerheidsverkiesings. Die VF+ se boodskap, sy “missie” is “Dit is ons tyd.” Ek
weet nie van ander mense nie, maar ek verstaan dit glad nie. Dit maak nie vir
my sin nie.
Dit beteken waarskynlik iets soos, in koalisie met ander,
enersdenkende politieke partye, is dit nou ons tyd om te regeer, waar die ANC
misluk het. Indien wel, bring dit my terug na die argument dat die
besluitnemers in die party gans en al te lank en te diep vasgevang was (en is)
in konvensionele politiek. Daar is maar slegs een ander party wat hoegenaamd potensieel
groot genoeg is om ʼn betroubare koalisie vennoot te wees, en dit is die DA; wat
my dan in ʼn volle sirkel terugbring na my oorspronklike argument: Dan stem ek
liewer vir DA Oorspronklik.
As die VF+ se plakkate egter iets sou lees soos: “Die tyd
om op te staan teen die rassediskriminasie in die land het gekom”, dan, ja, sou
hulle onmiddellik my belangstelling geprikkel het. Verder, dan sou hulle
hulself onmiddellik van die DA onderskei het.
Die potensieel ondersteuners van die Vryheidsfront Plus
is tans meestal ondersteuners van die DA. Die VF+ gaan tog nooit kiesers aan
die linkerkant van die politieke spektrum oortuig om vir hulle te stem nie.
Daarom moet die aard van die politieke boodskap dienooreenkomstig wees; dit
moet verwys na die werklikheid van verset teen diskriminasie waarvan hulle
ondersteuners meestal die slagoffers is. Dit moet verwys na ʼn beter lewe vir
mense wat tans ʼn droewige toekoms tegemoet gaan, omdat daar teen hulle gediskrimineer
word.
Dink die VF+ nou werklik dat dit in hulle guns tel, in
die oë van potensiële ondersteuners wat tans in die DA sit, dat die ANC meen
die VF+ is verkieslik bo die DA? Minstens, tot onlangs, in elk geval, het die DA
die ANC behandel vir wat dit is: Die diskrimineerder. Die ANC is die probleem,
nie (in een of ander romantiese konseptualisering) die “bedekte goeie ou” nie.
Ek voel ʼn vere of die ANC met die VF+ ooreenkom om die bestaansreg van Orania
te erken of nie. Laat ons die werklikheid sien vir wat dit is: Meer 99% van
Afrikaners in Suid-Afrika is Orania geen oplossing nie, en indien die VF+ se
missie, en boodskap, al sodanig ingeperk is, dat dit nou, by verstek, die
spreuksbuis vir Orania is, en die dorp (of dan konsep) as hulle einddoel sien, beteken
hulle niks vir my, en vir my stryd teen die diskriminasie waaraan ek blootgestel
word nie.
Dit is die probleem: Ek verstaan glad nie “wat” die
Vryheidsfront Plus is, of waarna dit streef nie. Op hierdie stadium verwag die
party dat ek moet stem vir ʼn vae gedefinieerde “konsep”; iets soos “regs van
die DA.” Solank daar nie inhoud gegee word aan die konsep, die begrip, nie, sal
dit moeilik wees om te beoordeel of dit die moeite werd sal wees om die VF+ te
ondersteun – en sal die meerderheid potensiele ondersteuners eerder maar by die
DA hou.
Prentjies was afgelaai van Google Images (VF+ se webwerf en Wikipedia).
Comments
Post a Comment