"Doen-Dit-Onself". Nie Moontlik Nie.
Dienslewering stort in duie. Infrastruktuur verkrummel. Standaarde word deurlopend verlaag en voorgehou as die "aanvaarbare norm".
En AfriForum, deesdae entoesiasties gesteun deur Max du Preez en ander uit die linkse enklawes, se oplossing is "Ons moet dit self doen; gemeenskappe moet self verantwoordelikheid aanvaar."
Dit kan nie werk nie; nie op die langtermyn nie. Ons dit "te doen" is waarom daar 'n staat is. Dit sal nooit werk nie. In ʼn moderne, gesofistikeerde land is daar verdeling van funksies ten einde spesialisasie te bevorder, wat weer eenheidkoste van uitnemende resultate verlaag (en bekostigbaar maak).
Jy is ʼn ingenieur omdat jy goed is met ontwerp; ʼn boekhouer omdat jy goed is met finansies. Dit is jou bydrae tot die gemeenskap. Om vullis te verwyder en sypaadjies in stand te hou is die werk van diegene wat daarvoor aangestel is - en waarvoor jy betaal. As jy nie ʼn brug ontwerp volgens spesifikasies nie, gaan ʼn vullisverwyderings spesialis jou pligte oorneem? Of as jy nie boeke doen volgens SARS se standaarde nie, gaan iemand wat die sypaadjie moet skoonmaak dit namens jou doen?
AfriForum is ʼn geïnstitusionaliseerde Afrikaner-belange bevorderings-besigheid. Hulle bemarkbare voordeel is om Afrikaner -belange te bevorder. Hulle maak ʼn wins daaruit. Hulle het verskeie vertakkinge wat groot winste maak uit Onderwys, Arbeid, en (onder andere) "Gemeenskap selfhelp." Hulle bestuurders word miljoene betaal. Hulle is geen altruïstiese hulporganisasie nie. Dit is in die belang van hulle winsgewendheid om mense te oortuig dat "ons dit self moet doen. So ploeter "ons" voort - en hou "ons" aan lm miljoene aan "the firm" te skenk.
Linkse kommentators soos Max du Preez, is so swaar emosioneel geïnvesteer in die sukses van ʼn getransformeerde Suid-Afrika dat dit vir hulle onmoontlik is om te erken dat die hele konsep ʼn klaaglike mislukking is. Dit is makliker om die verantwoordelikheid af te skuif op "gemeenskappe." "Die stelsel" het nie misluk nie, maar dit het nou die verantwoordelikheid van die "gemeenskappe" geword om dit te maak werk. "Almal het 'n plig", terwyl daar gerieflikheidshalwe vergeet word van die derduisende rande wat ons belasting betaal - en die derduisende wat ons op munisipale dienste uitgee. Maar dit is nie belangrik nie; en terwyl ons "verteenwoordigers" hulle sewe-syfers salarisse ontvang, en die ideologiese idealiste die skuld vir die verloregaande droom op die tradisionele vyand kan afskuif nie.
Ek het vier argumente oor waarom die model van "gemeenskap- selfhelp" nooit sal werk nie.
Eerstens, dit is doodgewoon onbekostigbaar. Suid-Afrikaners betaal reeds buitensporige belasting, veral as die opbrengs op hierdie belegging (dit wat hulle in terme van openbare dienste terugkry) in ag geneem word. Jy betaal belasting om hierdie dienste wat “gemeenskappe” nou moet doen te ontvang. Dit is nie my skuld dat die geld wat ek betaal gesteel word en verdwyn in 'n bodemlose put van
Verder, dit kos miljarde om munisipale infrastruktuur in stand te hou, te vervang en uit te brei. Met die uitsondering van ʼn paar super-ryk landgoedere, plaaslike woongebiede in Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie. Die sogenaamde “instandhouding” is maar bolangs en kunsmatig. Finansieel is “self-doen” maar bloot ʼn sê-ding, ʼn slagspreuk. (Soos alle besighede met goeie strategieë “slogans” ontwikkel om hulle handelsmerk te bemark).
Tweedens, die werklikheid van “die staat”, en dan spesifiek die staatsgesag wat dit ten grondslag lê, maak ʼn “gemeenskap-model van self-doen” onmoontlik.
Die vernaamste onderskeidende aspek wat die staat uitlig bo alle ander plurale sosiale strukture, is die aard (en omvang) van staatsgesag. Die staat beskik oor “allesoorheersende” mag, wat insluit militêre mag en die polisie, wat dit in staat stel om hulle wil op ander af te dwing.
Slegs ʼn staat wat gekenmerk word deur uiterste gedesentraliseerde staatsmagte, letterlik tot op die vlak van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies, sal die moontlikheid van “selfdoen” gemeenskappe moontlik maak. Dit is beslis nie die geval in Suid-Afrika nie; in Suid-Afrika verbied die plaaslike owerhede gemeenskappe om self gate in paaie reg te maak, en die hof verbied gemeenskapsorganisasies om die administrasie van dienste oor te neem wat die regering nie doeltreffend kan verrig nie.
Derdens, vir ʼn gemeenskaps-gebaseerde diensleweringsmodel om selfs net ʼn kans te staan om te werk, moet daar ʼn baie duidelike Grondwetlike raamwerk bestaan wat dit moontlik maak, en daardie gemeenskappe effektief beskerm teen regerings inmenging in wat hulle doen.
Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996, bevorder die beginsel van gemeenskapsdeelname aan die regering van plaaslike regerings, maar ken geen “self-regerende” magte of bevoegdhede aan individuele gemeenskappe toe nie. Die Grondwet bepaal:
“Status van munisipaliteite 151. (2) Die uitvoerende en wetgewende gesag van ʼn munisipaliteit berus by sy Munisipale Raad. (3) ʼn Munisipaliteit het die reg om op eie inisiatief die plaaslike regeringsaangeleenthede van sy gemeenskap te bestuur...
“152. (1) Die oogmerke van plaaslike regering is– (e) om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig.”
Selfs in terme van die Grondwet het die munisipale owerhede, soos verteenwoordig deur die munisipale raad en administrasie, die mag om namens gemeenskappe te besluit wat hulle mag en nie mag doen nie. In Suid-Afrika word hierdie reëls, die mag-en-mag-nies baie sterk bepaal deur ideologie (en rasse vooroordele).
Vierdens, enige vorm van gemeenskap individualiteit wat die regering se ideologiese paradigma bevraagteken, sal verwerp en onderdruk word. Enige vorm van gemeenskap self-doen wat op die ekonomiese vermoëns van daardie gemeenskap gebaseer is, of waarvan die demografiese samestelling daarvan die magshebbers se ideologie ondermyn, sal ondermyn word.
Gemeenskaps-selfhelp is 'n mite; dit is geen oplossing of alternatief vir 'n staat wat steel en afbreek nie. Dit sal slegs verduur word solank dit hierdie staat pas. Intussen is dit 'n gerieflike advertensie medium vir diegene wat miljoene verdien uit die vervalle en onderdrukkende omstandighede in die land, en 'n nuttige skuld-verwysingspunt vir die ideologies geinvesteerdes in "Projek Nuwe Suid-Afrika."
Prentjiebron: 123RF

Comments
Post a Comment