Die DA en die Afrikaner
Vanuit ʼn Afrikaner perspektief was daar was, sedert 1910, twee vraagstukke wat Suid-Afrika se politiek gedryf,
en tot ʼn groot mate gedefinieer het; die een was die rasse-vraagstuk, en die
ander was die stryd tussen Boer en Brit.
Die eerste voorsate van wat
later bekend sou staan as Afrikaners, het hulle in 1652 aan die
Kaap-de-Goede-Hoop gevestig, toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het om,
in opdrag van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, ʼn verversingspos te stig,
waar handelskepe van die kompanie vars groente en vrugte kon kry gedurende die
lang handelsreise wat hulle om die Kaap geneem het.
Wat aanvanklik bedoel was as ʼn verversingspos,
het uiteindelik uitgeloop op ʼn kolonie. Dit is waar die omvangryke
teenwoordigheid van Nederlanders as die “boublokke” van diegene wat hulself
later “Afrikaners” sou noem gelê was.
In die 17de eeu het daar
vervolging en onderdrukking van Calviniste (deur die Katoliek-gesinde koning)
in Frankryk plaasgevind, wat gelei het daartoe dat hierdie geloofsgroep na
verskeie kolonies in die Nuwe Wêreld uitgewyk het. Dit het ingesluit ʼn groep
wat hulself in die Kaapkolonie kom vestig het, en later ʼn tweede boublok van
die Afrikanervolk sou uitmaak.
'n Derde groep was
die Duitse immigrante wat hulle in verskeie “golwe” sedert 1652 aan die Kaap
kom vestig het, en uiteindelik deels in die Afrikaner, - en deels in die Engelssprekende
groeperinge in die land opgeneem was.
In terme van die Blanke bevolking in
Suid-Afrika, was die Afrikaner en altyd die Engelssprekende
groep definierende dominante groepe.
As ʼn resultaat van die
internasionale politiek van die tyd, en spesifiek die vrees dat Napoleon beslag
sou lê op daarop, het Brittanje die Kaapkolonie in 1795 gekolonialiseer; dit
vir ʼn kort tydperk teruggeplaas onder die beheer van Nederland, en toe “permanent”
beslag gelê daarop in 1806. Die grootste gros van hierdie groep se voorsate was
deel van die Britse setlaars, wat hulle in die 1820s hoofsaaklik in Natal
gevestig het.
Die geskiedenis van Afrikaners teenoor
die Engelssprekende segment van die land se Blank bevolking was egter van die
begin af totaal uiteenlopend (en botsend).
Afrikaners se geskiedenis loop
deur die vestiging aan die Kaap, die koloniale oorloë teen die Khoi en San (die
“eerste” mense), die grensoorloë, die stryd teen Simon van der Stel, die Groot
Trek, die Eerste Engelse Oorlog en die Tweede Engelse Oorlog (die “Boereoorlog”).
Die geskiedenis van Engelsprekende
Blanke Suid-Afrikaners loop deur gebeure soos Brittanje se anneksasie van die
Kaapkolonie, die vestiging van die Britse setlaars, en oorloë teen inheemse
stamme, en dan veral die Zoeloes, en die oorloë teen die Boererepublieke (die
voorsate van wat later sou self-definieer as “Afrikaners”).
Cecil John Rhodes se vasberadenheid
om die nuut ongedekte minerale rykdomme aan die Rand, in die voormalige
Transvaalse Republiek, onder Britse beheer te dwing, het uiteindelik direkte
aanleiding gegee tot die ernstige direkte konflik tussen Boer en Brit, naamlik
die Anglo-Boereoorlog.
Oorlog is oorlog, en
geskiedenis is geskiedenis. Ek gaan nie nou stilstaan by die wreedhede van die
Boereoorlog nie. Die punt hier is dat dit die gebeurtenis was wat uiteindelik,
vir baie jare lank, die oorsaak sou wees van konflik en stryd tussen Afrikaners
en die Engelssprekende seksies van Suid-Afrika se Blanke bevolking. In die jare
1910, van Uniewording af, tot laat in die 1900s) was dat die bepalende faktor
oor wie (watter ideologie, met watter spesifieke internasionale lojaliteite)
die land sou regeer.
In Afrikaner-geledere was daar ʼn aansienlike groep wat na 1910 polities-ideologies ingeval het by die idee van die Britse Ryk (met kolonialisme wat op daardie stadium ʼn aanvaarde, en aanvaarbare, internasionale geopolitieke praktyk was). Onder hulle was figure soos Louis Botha en Jan Smuts. Hierdie groepering het vir baie jare lank die Engelssprekende komponent van die blanke bevolking (binne die konteks van die land se blank-spesifieke bedeling) die numeriese krag en derhalwe die vermoë, gegee om politieke beheer oor Suid-Afrika uit te oefen.
Alhoewel Botha en Smuts Boere
bevelvoerders was gedurende die Anglo-Boereoorlog, het beide, maar veral Smuts
in die tydperk 1910 tot 1948, beleidsrigtings gevolg wat Afrikaners binne die
Suid-Afrikaanse politieke bestel gemarginaliseer het. Dit het ingesluit
uiterste onwilligheid om erkenning te gee aan Afrikaans as ʼn amptelike taal,
addisioneel tot Engels. Daar kan geen twyfel bestaan dat die kollektiewe
belange van Engelssprekende Suid-Afrikaners binne hierdie konteks bo die van
Afrikaners geprioritiseer was nie.
Na 1948, toe die Nasionale
Party die bewind in die land oorgeneem het, was die belange van Afrikaners
geprioritiseer; nie slegs in verhouding tot die van Swart Suid-Afrikaners nie,
maar ook, tot ʼn mindere mate, in verhouding met die van Engelssprekendes binne
die Blanke bevolking. Afrikaans was erken as ʼn amptelike taal, die staatsdiens
was feitlik totaal ver-Afrikaans (behalwe in Natal) en die Afrikaner het
simbolies ʼn plek ingeneem in die Suid-Afrikaanse ruimte wat eintlik grotesk was
(en gelei het tot benamings end standbeelde wat later jare ʼn oormaat van
geleenthede gegee het aan ʼn Afrikaner-vyandige regering om die teenwoordigheid
van die volk in Suid-Afrika simbolies af te breek).
Daar word byna gelate aanvaar dat Engelssprekende blanke Suid-Afrikaners “bietjie minder skuldig is aan apartheid en rassediskriminasie voor 1994” as Afrikaners; onder andere omdat hulle meestal ondersteuners was van politieke partye soos die Unioniste, wat minder “aggressiewe” weergawes van rasseskeiding in die land nagestreef het as die Nasionale Partye. Later jare het hierdie demografiese groep hoofsaaklik die Progressiewe Federale Party polities ondersteun.
Dit moet egter in gedagte gehou word dat Jan Smuts, een van die stigterslede van die Verenigde Nasies na die Tweede Wêreldoorlog, tot die dag van sy dood ʼn voorstander was van Blanke regeringsbeheer in Suid-Afrika, ongeag sy onmiskenbare lojaliteit teenoor, en voorkeur aan, Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners. Ook dat baie van die steun wat opposisiepartye in die Parlement van Engelssprekende blanke Suid-Afrikaners ontvang het, teruggevoer kan word na hulle weersin in Afrikaners, en die sigbare “ver-Afrikaansing” van Suid-Afrika se nasionale ruimtes, eerder as weerstand teen die Nasionale Party se rasse-beleid.
Gedurende die politieke oorgangsfase
in die vroeë 1990s, was Afrikaners polities verlore. Om voor te gee dat daar
grootskaalse, entoesiastiese ondersteuning was vir die veranderinge waarin die
De Kerk regering betrokke geraak het, sal doodgewoon onwaar wees. Wat gebeur
het, was dat Afrikaners die tekens van die tye gesien en ervaar het, en gemaak
het presies wat hulle in die voorafgaande meer as veertig jaar gedoen het:
Hulle het dit aan die Nasionale Party oorgelaat om besluite namens hulle te
neem, in die geloof dat hierdie besluite hulle belange sou beskerm. Daar was
geen werklike ander keuses nie, en die meerderheid Afrikaner kiesers in die
NP-kraal sou enigiets wat die party aangevoer het, goedgekeur het.
Engelssprekende Blanke
Suid-Afrikaners was veel meer geïntegreer in die strukture, en denkwyse, van
die Progressiewe Federale Party, wat die Demokratiese Party sou word. Die party
het gedurende die 1994 verkiesing ongeveer 1,7% van die stemme getrek (min of
meer gelykstaande aan Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners se demografiese
verteenwoordiging in die land se kierskorps). Die Nasionale Party, daarenteen,
het onverwags relatief groot steun uit die Kleurling kiesersgemeenskap getrek,
plus die oorweldigende steun uit Afrikanerkiesers, en opgeeindig met net meer
as 20% van die nasionale stem..
Toe het iets gebeur wat ʼn reuse
verskil aan die patrone van politieke ondersteuningsprofiele in die land sou
gehad het: Die Nasionale Party het in duie gestort. Uiteindelik sou Afrikaner
kiesers geen ander keuse hê, anders as om na ʼn nuwe politieke tuiste te soek
nie.
Wat was die keuses?
Die Vryheidsfront was seker, teoreties,
die logiese alternatief. Dit dit sou ʼn uiters riskante keuse gewees het. In die
eerste plek praat ek hier van de jare 1994-2000. Nelson Mandela was vir ʼn gedeelte
van die tydperk nog aan die bewind; ʼn onaantasbare globaal ikoon. Afrikaners
was weerloos en blootgestel aan nimmereindigende beskuldigings van rassisme;
van hulle was vereis om “op te maak van die sondes van die verlede.” Prakties
was daar geen kans om sigbaar “teen die nie-rassige bestel” kant te kies, en dit institusioneel
te oorleef nie. Die Vryheidsfront was gesien as die “beweging van die rassiste.”
Verder was die party deur Afrikaner-kiesers gesien as klein en nie in staat om
enigiets betekenisvol vir hulle te beding, binne die werklikhede van die Nuwe
Suid-Afrika nie. Die party se assosiasie met die "tuisland idee", en dan spesifiek Orania, het ook teen hulle getel.
Die ANC en ander linkse
groeperinge was heeltemal uit, en nie eens in oorweging gebring nie. Hierdie
partye was dan juis “die vyand.”
Wat oorgebly het, was die Demokratiese Party. Die Demokratiese Alliansie was in die jaar 2000 tot stand gebring deur ʼn vereniging van die Demokratiese Party, die voormalige Nasionale Party en Louis Luyt se Federale Party. In die proses het die nuutgeskepte DA feitlik al die Nasionale Party se Afrikaner – en Kleurlingkiesers oorgeërf.
Hierdie werklikheid dui
natuurlik ook die belaglikeheid fantasieë wat so algemeen verkondig word, van
die DA leierskap wat deur nagte se slaaploosheid, werksetiek en persoonlike
briljantheid, die DA gebou het van ʼn 1,7% party tot ʼn 20% een. Daar was nooit
so-iets nie; al wat gebeur het, was dat die DA die tradisionele ondersteuners
van die Nasionale Party geërf het, eintlik maar sonder enige werklike poging
uit hulle geledere, of enige werklike beheer oor die proses. Afrikaner-kiesers
het vir die party begin stem omdat hulle van mening was dat daar absoluut geen
ander keuse was nie.
Dit het derduisende Afrikaners onder die leiding van die Demokratiese Alliansie gebring; ʼn party was onder die beheer was van Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners wat geen werklike begrip het van die kultuur en denkwyse van Afrikaners nie, en geen begeerte om die belange van Afrikaners te verteenwoordig of te beskerm nie.
Dit is vandag steeds die geval.
Deur die jare het die DA geen werklike betekenisvolle pogings aangewend om
verteenwoordigers uit die geledere van Afrikaners wat hulle so lojaal
ondersteun het, tot die hoogste vlakke in die party toe te laat nie. Daar is
geen werklike pogings om die ideologiese sienings van Afrikaners te akkommodeer
nie. Leiersfigure soos John Steenhuisen het al alles gesê en gedoen om sy
minagting vir Afrikaners te toon, behalwe om dit reguit te sê. Oor die jare het selfs Helen Zille met tye baie naby daaraan gekom. Nie een van die
DA se leiersfigure kan eens behoorlik Afrikaans praat nie. Nie ʼn enkele DA
leiersfiguur het nog ooit geskroom om sentimente uit te spreek wat hulle goed geweet
het ʼn groot persentasie van hulle Afrikaner ondersteuners aanstoot sal gee nie.
En hulle sal nie daarmee ophou nie. Want Afrikaners het geen ander keuse om vir
hulle te stem nie. Afrikaners is kanonvoer.
Dit sal ʼn fout wees om bloot te aanvaar dat die baie werklike en diepliggende kultuur-verskille en strydbyle tussen Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners sedert 1994 eensklaps ongedaan gemaak was, bloot omdat die twee groepe ʼn gemeenskaplik ras – en Europese afkoms (en eienskappe) deel. Deur die jare (byna 25 jare) was Afrikaners niks anders as kanonvoer vir die DA nie. Afrikaners was behandel binne die begrip van “julle het geen ander keuse as om vir ons te stem nie, want ons is net so ʼn bietjie beter (en liewer vir julle) as die alternatief”.
Die DA het nie sogenaamde “uitgebreide
belangegroepe” om in ag te neem wanneer beleidsbesluite geneem word nie; die DA
se prioriteit is die belange van Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners. Binne kontemporêre
Suid-Afrikaanse werklikhede, verteenwoordig die DA hierdie groep se finale
oorwinning oor Afrikaners.
Ek spreek hierdie mening uit as
ʼn Afrikaner (asseblief toggie, nie namens Afrikaners nie!) maar as ʼn Afrikaner.
Daar is diegene buite hierdie groep wat ewe veel het om ongelukkig te voel oor
die DA. Soos die Kleurlingbevolking, wat in massas sedert 2000 vir die DA
gestem het, sonder dat ʼn enkele verteenwoordiger uit hulle geledere ooit, in
meer 25 jaar, tot ʼn werklike senior leierskap – of regeringsposisie binne (of
deur) die party bevorder was.
Premtjiebron: 123RF

Comments
Post a Comment